Huldeblyk aan General Magnus Malan

 

HULDEBLYK DEUR GENL CL VILJOEN BY DIE GEDENKDIENS VAN WYLE GENL MAGNUS MALAN OP 27 JULIE

HULDEBLYK DEUR GENL CL VILJOEN BY DIE GEDENKDIENS VAN WYLE GENL MAGNUS MALAN OP 27 JULIE 2011

(Getranskribeer soos gelewer)

Ons ervaar ook vandag, soos die dominee beklemtoon het, ons liefde teenoor die Here. Genl Malan sou dit só wou gehad het - dat ons weet dat dit die liefde teenoor die Here en die onderlinge liefde tussen mekaar is, wat die deurslag gee.

As weermag van die land het ons vir genl Malan gesteun in die belangrike taak wat hy uitgevoer het. Vandag is dit my taak om hulde aan hom te bring. Dit is amper 'n onmoontlike opdrag. Hy het 'n boek geskryf en ek sou graag vir u uit die boek wou voorlees, maar dit sal té lank neem. Ek wil egter baie graag die gewaardeerde geleentheid benut om 'n bietjie meer perspektief te gee oor die waarde van genl Malan se bydrae in hierdie belangrike tyd waarin ons lewe. Wanneer ek praat van die 'perspektief van hierdie tyd' impliseer ek dat niemand genl Malan kan beoordeel, beskryf of anders verstaan as binne die konteks van die uiters kritieke tyd waarin hy bevoorreg of belas was met die verskriklike taak op hande nie.

Nou moet u my verskoon. Ek gaan nie vandag 'n aantal mooi byvoeglike naamwoorde gebruik of met woorde speel om u te beïndruk nie. Ek gaan my huldeblyk baseer op die waarde van genl Malan se bydrae in die praktyk. In die tyd toe genl Malan as 'n jong offisier by die SAW aangesluit het, was die harde, kritieke, klassieke militêre oorlogvoering wat in die eerste helfte van die vorige eeu ontstaan het, nog aan die orde van die dag. Dit was eintlik, in 'n sin, 'n makliker tipe oorlogvoering as later. Die modus operandus was soos volg: daar is 'n botsing, die regering besluit om tot militêre aksie oor te gaan en dit word aan die militaris (generaal of veldmaarskalk), wat hulle aanstel,opgedra. Hy hanteer die beslegting en hy wen of verloor. As hy wen, oorhandig hy die saak terug aan die politici wat die saak dan polities verder voer. Maar in die tweede helfte van die vorige eeu het hierdie metode verander. Dit was die einde van die Tweede Wêreldoorlog en die begin van die vrees vir die ontwikkeling van kernwapens. Tog net nie weer 'n groot oorlog nie - tog nie weer die gebruik van kernwapens nie! Ten spyte van hierdie vrees vir totale vernietiging, het botsings en konflikte nie minder geword nie. Die groot moondhede het nie openlik by die kleiner streeksbotsings betrokke geraak nie, maar het die vrees vir, en gedagtes aan kernwapens uitgebuit om hulle ideologie en blokvorming te bevorder en die konflikte aan te hits. So het oorlogvoering, in die tyd wat genl Malan tot die weermag toegetree het, 'n baie belangrike tydvak ingegaan. Dit het bestaan uit ondergrondse, makro-konflikte en streeksgebonde mikro-konflikte. Hier verwys ek veral na Afrika - eers Kuba se rol in Afrika en daarna na die algemene begrip van 'n 'koue oorlog' wat in daardie tyd ontstaan het.

Min het Magnus Malan, die destydse jong offisier van wie ons vandag afskeid neem, besef dat hy só intens betrokke sou raak en dat die kompleksiteit van die kleiner oorloë vir hom in sy wese sy hele lewe lank sou agtervolg. Onthou dat genl Malan kort na die Tweede Wêreldoorlog by die weermag aangesluit het . Die algemene, heersende gees in die SA Weermag in daardie stadium, was die erfenis van hierdie oorlog. Dit het die wapentuig en die taktiese doktrines ingesluit. In daardie stadium was SA politici egter in konflik met die wêreld. Dit weet ons. Suid-Afrikaanse politici in die land was dikwels oningelig mbt die wyse waarop hierdie militêre konflik of algehele konflik sou ontwikkel en hoe hulle hul daarvoor moes gereed maak. Die persepsie in die land toe genl Malan as Hoof van die Weermag oorgeneem het, was dat die weermag enigiets kon regkry. Die algemene persepsie was dat die land en sy mense vreesloos kon voortgaan met hulle gewone lewenswyse omdat daar 'n weermag was wat sou sorg. Genl Malan was toe 'n jong offisier in daardie weermag. Daar is mettertyd geglo dat die weermag onoorwinlik was en dat politici daarom maar kon dink en doen soos hulle wou.

Onder bogenoemde omstandighede vorder genl Malan baie vinnig na die hoogste rang en as 'n leier van sy tyd ontwikkel hy die missie om SA te beskerm. Hy was 'n realistiese offisier en het besef dat hy tyd moes wen d.m.v. streeksbotsings in Suider-Afrika, die buurlande, in SWA en later ook in SA te hanteer. Genl Malan het hierdie situasie bestudeer en sy bevindinge aan die weermag oorgedra. Nie een van die ander staatsdepartemente het werklik besef wat die kern van die konflik was wat ons beleef het nie. In die tydperk wat hy van Bev Kmdmt SWA tot H Leër, tot Hoof van die Weermag en tot Minister gevorder het, was sy primêre taak om te verseker dat die weermag nie die militêre stryd moes verloor nie. Dit sou fataal wees. Ten spyte van die opvatting dat die militêre stryd slegs 20% van die konflik uitmaak, sou dit beteken dat daardie 20% ons totaal sou kon uitknikker. Genl Malan se opvolg-verantwoordelikheid of tweede taak was beslis politieke beïnvloeding. Ons het 'n politieke stryd gestry wat teen-insurgensie oorloë ingesluit het. Die politieke hantering van konflik was belangrik en daarom moes genl Malan reeds as 'n offisier, as Hoof van die Weermag en later as Minister van Verdediging, sterk optree, sy politieke invloed laat geld en advies gee in die hoop dat die politieke beheer in die land dit sou aanvaar. Hy moes strukture koördineer om te verseker dat die volle potensiaal van Suid-Afrika, nie net die militêre potensiaal nie, aangewend word om Suid-Afrika te beskerm en tyd te wen tot tyd en wyl ons in staat was om politieke oplossings te vind. Dit was sy primêre taak en dit het genl Malan gedoen.

Dit is onmoontlik om deur middel van enkele voorbeelde genl Malan se totale rol te beskryf , maar ek wil graag, sonder omslagtigheid, begin deur oor Malan as die spanleier te praat. Dit was een van sy sterkste eienskappe. Hy het hom toegespits op kommunikasie met sy spanne. Hy het met hulle gestoei en geargumenteer om inligting uit hulle te kry totdat 'n oplossing gevind kon word. Daarna het hy dan voortgegaan. Hy was besonder lief vir spanbou- oefeninge. He really had fun in getting us all together and starting with team building excercises. But basically he was already milking us for information, discussing it first and thereafter ensuring that he could direct the Defence Force and advise Government.



Sy tweede sterkste eienskap was waarskynlik sy rol as politieke skakel. Ek het gesê dat insurgensie hier oor politiek gegaan het. As 'n weermagsleier het genl Malan hierdie rol uitstekend gespeel. Hy het hierdie weermag, saam met ons uitgebou tot die beste Weermag in Afrika, wat sy take volledig kon uitvoer. Dit was wonderlik om hom in dié verband te sien en ek is oortuig dat ons weermag in staat was om vir baie lank voort te gaan. Ek kom net nou weer terug hierna. Die politieke skakelwerk wat genl Malan moes doen, was krities belangrik. Nie die land óf die politici was op hoogte van die eise wat so 'n teen-insurgensie stryd gestel het nie. Politieke skakelwerk het o.a. die stigting van 'n veiligheidsbestuurstelsel ingesluit . Die Staatsveiligheidsraad en koördinering op alle vlakke het verseker dat die weermag vir Suid-Afrika op militêre vlak kon bystaan, maar het ook verseker dat ons genoeg tyd sou wen om uiteindelik die politieke dinge aan die kop te vat.

Dan was daar Magnus Malan, die dryfveer van burgersake. Ek was bevoorreg om eendag 'n besoek in die eertydse Rhodesië af te lê tydens 'n streekskonflik. Die stryd het presies gegaan oor wat ons later in Suid-Afrika ervaar het. Toe ek met die offisiere gesels het, het hulle my die volgende meegedeel: “There was a tribal trust land, where we had peace. In fact, it was difficult for the terrorists or guerillas to move into this trust land”. I asked them why it was that the rest of the region, except for this one piece of land, was overrun? They replied that it was because of the efficiency of the administrative system. Dit is dan waar ons en genl Malan besef het dat alles moontlik gedoen moes word en alle moontlike departemente ingespan moes word om die gesindhede tussen al die mense van die land só goed as moontlik te maak. Ons was maar terdeë bewus van tekortkominge in die administratiewe doeltreffendheid, die sogenaamde dienslewering wat tans só 'n kwessie in Suid-Afrika is. Effektiewe administrasie is belangrik om die massas tevrede te hou. Só het genl Malan dan ook besef dat dit belangrik is om hierdie gesindheid te verbeter . Hy het persoonlik geweldig belanggestel in die wyse waarop die gesindhede verander kon word en mense 'gewen' kon word. Hy het mense aangestel, hy het burgersakediens gedoen en van die burgermag en kommandos gebruik wat spesifieke tegnieke en kennis gehad het. Baie van u wat in die weermag was, sal onthou hoe hy van die kommando's Katima Malilo toe gestuur het en ek wens u kon saam met my gesien het watter invloed iemand soos kmdt Dirk du Toit, 'n eenvoudige boer, op die belangrike meningsvormers in die Oos-Caprivi gehad het. Verder het hy opleiding bevorder. Die hulp mbt Onderstepoort se dienste, die verbetering van omgewingsinisiatiewe met betrekking tot geneeskundige dienste, mediese hulp, ens. was nog een van genl Malan se sterkpunte. Hy het nie geskroom om daaroor te praat en pogings aan te wend om die hele land en alle staatsdepartemente te betrek en te motiveer om die dienste op daardie gebied te verbeter nie.

Verder is daar ook genl Malan, die Krygkor-vennoot. U sal onthou dat ek verwys het na die verouderde wapentuig in die weermag toe genl Malan as 'n junior offisier aangesluit het. Onder genl Malan was die aanvanklike bekommernis teen-insurgensie. Dit was eers later met die Kubaanse bedreiging in Angola dat ons begin besef het dat ons ons ook vir meer as net teen-insurgensie moes voorberei, dws iets soos konvensionele oorlogvoering. Om die omstandighede en norme wat in die Tweede Wêreldoorlog in Europa en Noord-Afrika gegeld het later in Angola aan te wend, wat duisende kilometers daarvandaan geleë is, is 'n resep vir mislukking. Onder genl Malan se leiding het die topstruktuur van Leër voorgestel dat die taktiese doktrine van die Tweede Wêreldoorlog verwerp moet word en dat ons ons vir Afrika gereed moes maak. Ons moes 'n meer mobiele gevegstegniek ontwikkel met groter vuurkrag. Ons wapentuig moes van só 'n aard wees dat ons blitsvinnig kon reageer op moontlike konfrontasies in SWA of elders in SA.

Ons moes nuwe wapens ontwikkel. 'n Tenk kon nie hiervandaan na Suidwes op sy ruspers ry nie. Ons het die nodige mobiliteit in die tenkmag ingebou en weet u, jare later, in 1987, het hierdie wapens die Suid-Afrikaanse Weermag in staat gestel om die grootste militere oorwinnings te behaal toe die Kubane gedink het hulle kon met hul brigades die suid-ooste van Angola inval waar ons vir Savimbi ondersteun het. Hierdie wonderlike oorwinning was te danke aan verskeie faktore nl. ons nuwe taktiek en uitstekende samewerking met Krygkor t.o.v. die ontwerp en onwikkeling van wapens wat beter kanonne, tenks en beter infanteriegevegsvoertuie ingesluit het. Ons het ook die vermoë gehad om logistiese ondersteuning te gee. Statiese gevegte soos die van die Tweede Wêreldoorlog was iets van die verlede met die nuwe mobiele oorlogvoeringstegniek wat groter vuurkrag ingesluit het. Die wonderlike bydrae het genl Malan deur sy goeie verwantskap met sy vriend Kommandant Piet Marais by Krygkor bewerkstellig.

Maar daar was ook Malan - die operasionele koördineerder. Genl Malan is dikwels beskou en ook in die openbaar uitgekryt as iemand wat 'n té sterk invloed probeer uitoefen het. Die algemene persepsie was dat hy die land probeer militariseer. Dit was nie só nie. Genl Malan was in daardie stadium die beste ingelig, maar die weermag het self elke insurgensie-oorlog wat plaasgevind het, bestudeer. Daarom kon genl Malan saakmakende inligting na die politici deurgee en het hy die operasionele koördineerder geword. Hy is dikwels deur ander departemente gekritiseer dat hy in hulle sake sou inmeng, maar dit was nie só nie. Dit was 'n opregte poging van genl Malan om in Suid-Afrika en ook in SWA, hierdie saak beter te probeer hanteer.

Nou wil ek praat oor genl Malan, die politieke realis. U weet, hy het wesentlike invloed in SWA gehad - eers as bevelvoerder, later as Hoof van die Leër en later as Minister - op die verloop van die oorlog. Hy het uiteindelik stabiliteit bewerkstellig en op die regte tyd begin met onderhandelinge. Ek verwys ook na die Turnhalle-pogings wat plaasgevind het. Toe hy eers Resolusie 435 ondersteun het en daar tot implementering oorgegaan word, het die SWAPO guerrillavegters skielik 'n vinnige insurgensie probeer uitoefen net om die indruk te skep dat hulle 'n militêre oorwinning in SWA sou kon behaal. Hy het hulle 'n goeie militêre les geleer wat weer die rustigheid en stabiliteit herstel het. Daardeur het hy bewys dat om 'n politieke oplossing te bewerkstellig, die finale antwoord was.

Ons huldig genl Malan vir hierdie suksesse wat hy in SWA bewerkstellig het. SWA is vandag een van die lande wat redelik stabiel is sodat daar 'n toekoms vir sy mense en hulle kinders kan wees.

Ek wil nou, miskien ten koste van myself, vinnig vir u meer vertel oor Malan as die politieke realis. U weet, ons het Renamo ondersteun en ons was op daardie stadium nog nie groot vriende met Frelimo nie. Toe stel hulle skielik voor dat die Komati-verdrag onderteken moet word. Die verdrag was basies 'n skietstilstand. Ek was nie baie tevrede daarmee nie. Ek wou in nie in daardie stadium daarby betrokke raak nie en het allerhande draaie gegooi om uit die bywoning van die Komati-verdrag samesprekings te kom. Genl Malan het my gou deurgekyk, en vir my beveel om daar te wees. En ek moet vandag erken, ek was daar en ek het Samora Machel ontmoet, hom gegroet en ons het redelik goed oor die weg gekom. Daarna was die verhouding tussen my en Mosambiek heeltemal anders en Mosambiek sal, hopelik ook soos SWA, stabiliseer en rustig word. Genl Malan was 'n groter realis as ek en hy het besef hoe belangrik politieke aanpassing en die gebruik van die weermag vir politieke doeleindes in 'n koue oorlog was.

Ek beklemtoon dat genl Malan se leiding in SWA vir ons tyd gewen het. Dit was bitter nodig. Die mense van SWA was nie gereed om werklik oor 'n konstitusie te onderhandel nie. Daar was tyd nodig. Ek het eenkeer 'n lang argument met mnr Mudge gehad omdat ons daar bo veg en hulle hier onder by die Turnhalle sit en praat en toe wil hulle boonop verlof neem vir 'n maand. Toe ek vir hulle noem dat dit nie só kan aangaan nie, het hy vir my 'n baie waar ding gesê. Hy het gesê dat die mense in SWA nog nie gereed was nie en wat hier in die Turnhalle besluit word, moet in SWA versprei word. So het SWA uiteindelik sukses bereik en het genl Malan 'n uiters belangrike rol daarin gespeel.

Ten slotte verwys ek na ons eie situasie en na die SA Weermag in die tydperk waarin genl Malan gedien het. Let wel, hy was van die 1950's af tot en met die einde van die tagtigerjare betrokke - 'n uiters belangrike tydperk. Genl Malan het ook, wat SA betref, die standpunt gehandhaaf dat ons moet tyd wen totdat die finale oplossing gevind kon word. Genl Malan het nie vir een oomblik gehuiwer om ons gedagtes aan die kabinet oor te dra nie. Ek herinner my aan een geleentheid waar die Verdedigingsbevelsraad 'n voorlegging aan die kabinet gedoen het, en hulle verseker het dat die weermag baie sterk was en dat ons nie 'n probleem gehad het om aan te hou nie, maar 'n insurgensie-oorlog word polities gewen. Hy het amper die onmoontlike gedoen deur ons as soldate toe te laat om vir die kabinet te sê, dat ons só lank as moontlik sal aanhou, maar elke jaar wat dit langer neem om 'n politieke oplossing te bewerkstellig, gaan daar vir seker aan die einde van daardie jaar, minder strategiese opsies vir daardie oplossing wees. Genl Malan was toe Minister gewees, en ek dink dit was ook 'n risiko wat hy geneem het om toe te laat dat 'n aantal 'arrogante' generaals dit aan die kabinet oordra. Ek noem dit net om te beklemtoon hoe sterk genl Malan in sy oortuiging was oor die rigting waarin ons moes beweeg in hierdie kritieke tyd.

Toe kom ons in 1994 ons eie situasie, en ek is bevrees dat die lojaliteit van die weermag en die bydrae wat genl Malan gelewer het, eintlik daar geëindig het. Dit spyt my om te se dat genl Malan en 21 generaals op die politieke offertafel geplaas is. Hulle is vir een of ander “voordeel” verruil. Ek hoop, en wil hiermee afsluit, dat die manier waarop genl Malan se invloed hier teen die einde weggevat is, ten spyte van sy groot bydrae oor soveel jare, nie nog van SA 'n baie meer onstabiele land sal maak as wat Mosambiek, Angola en SWA nou is nie .

Dames en Here baie dankie vir die geleentheid dat ek kon praat. Genl Malan was 'n groot vriend en 'n effektiewe generaal, en hy het SA gelei soos hy op daardie spesifieke stadium dit goedgedink het . Ons moet hom daarvoor huldig. Ons moet onthou wat die dominee gesê het - laat ons liefde vir mekaar, ons onderlinge gesindhede, ons wat hierdie stryd deurgemaak het, laat dit groei en nooit verdwyn nie.

 
Web design and Hosting by Sulaco New Media built using FastSite CMS