ROR groet hul Ere-kolonel

 

AFTREDE VAN ERE-KOLONEL AP STEMMET: 16 FEBRUARIE 1999 TOT 9 APRIL 2010

Die Regiment Oranjerivier het tydens 'n glansryke Pantseraksie op Vrydagaand 9 April 2009 afskeid van Ere-kol AP Stemmet geneem. Hy is reeds op 16 Februarie 1999 as die Eenheid se Ere-kolonel aangewys.

Kol Stemmet, of "Oom AP" soos hy alombekend gestaan het, is op 26 Februarie 1937 te Vredendal gebore en het in 1954 aan die Hoerskool Montagu, waar hy ook die hoofseun was, gematrikuleer.

Hy het deur UNISA in die Regte studeer en vervolgens as Klerk, Staatsaanklaer en Landdros dwarsoor die land gewerk voordat hy in 1964 na die Justisie Hoofkantoor as 'n Wetsopsteller verplaas is. In dieselfde jaar is hy by die Regspan van die RSA ingesluit wat die Wereldhofsaak in Den Haag, Nederland, hanteer het.

Kol Stemmet het vir 11 jaar Parlementere Diens namens die Departement Justisie gedoen en is in die tyd tot Ondersekretaris bevorder.

In 1980 is hy tot Adjunk Sekretaris in die Departement van die Eerste Minister bevorder en het hy assulks as die tweede-in-bevel van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad gedien.

Gedurende hierdie tyd het Kol Stemmet die begrip van Toekoms-studies in die Staatsdiens in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch gevestig en is die studierigting deur Prof Segal van die Universiteit van Kaapstad in 'n boek oor die onderwerp gesteun. Kol Stemmet en sy personeel het 'n studie van Rewolusionere Oorlogvoering gemaak en Staatsamptenare is daarin opgelei.

Hy het in 1990 afgetree maar is onmiddelik na sy aftrede as die Bestuurder van die Raad van Balju's aangestel waar hy 'n nuwe Afdeling in die lewe moes roep en tot 2001 gewerk het.

Oom AP is in 1964 met Petro getroud en uit hulle huwelik is vier kinders, naamlik Francois, Ester, Sanet en Kobus gebore en het hulle reeds ses kleinkinders.

In al hierdie jare het Kol Stemmet net een stokperdjie gehad en dit was die SA Weermag. In 1983, met die rang van Majoor, is hy deur sy werkgewer verplig om uit die Weermag te bedank. Maar die kat kom weer en hy is in 1999 terug ROR toe - na sy mening steeds die beste Pantserregiment in die RSA!


Kol AP Stemmet voor die "Vlam van die Pantser".


Lt Kol Mike Herbst (Aft), Nasionale President van die SA Pantserbond, wens vir Kol Stemmet geluk nadat hy die tradisionele "Kierie" aan hom oorhandig het.


Tydens die Pantseraksie afgeneem was Kol Andre Retief, Lt Kol Willem Rall (Aft), voormalige Bevelvoerder van ROR, Lt Kol Jaco Olivier, Bevelvoerder van ROR en Lt Kol Mike Herbst (Aft), Nasionale President van die SA Pantserbond.
 
Web design and Hosting by Sulaco New Media built using FastSite CMS